Ouer gesprekke …

Hier deel ons, ons ouer gesprekke wat ons op Facebook het.

 

So in die deurmekaargeit van die dag wil ek so bietjie by julle kom sit en gesels. Ouer tot ouer. Vanoggend laai ek my pragtige dogters af by die skool en skielik die besef van hulle raak daagliks ouer, groter. Het daagliks minder van my as mamma nodig. Ek wil vandag stil raak, my driejarige se lyfie ‘n stywe drukkie gee terwyl ek die sonskyn in haar haartjies ruik. Vir my amper 8 jarige wil ek daai krullebol wat weier om in ‘n poniestert getem te bly vir die hele dag, die krul agter haar oortjie indruk. Die groot versoeking weerstaan om die poniestert oor te doen. Ek wil elke oomblik van hulle nou, so, onthou. Ek wil die korsies vanmiddag van hulle broodjies afsny en saam met hulle sit en eet. Ek wil vanaand vir hulle sommer ‘n ekstra stories lees, net omdat ek kan. Nou gaan ek eers ‘n vuilkol van die muur af was, en ek gaan nie kwaad wees vir die handjie wat daar gevat het nie, een van die dae is daai handjie yslik groot. Vandag gaan ek stil raak en elke oomblik geniet. Trudie xx


 

Ons het gisteraand Grondslagfase atletiek gehad. Ag my moeder maar die ou kleintjies is net te oulik! Maak nie saak van talent of hardloop vermoeë nie, elkeen het opgedaag en deelgeneem en dit vreeslik geniet! Dink dit is nogal iets wat ons vir elkeen van ons kinders kan tuisbring – daag op, neem deel, ongeag van die uitkoms. Mens wen nie noodwendig altyd nie, maar jy wen in selfvertroue, spangees en soveel meer. Trudie xx


 

Elke week klokslag op ‘n Woensdag word my posbus vol gestop met wat ek noem gemorspos. Al daai honderde advertensies van kettingwinkels met hulle weeklikse aanbiedinge op. Tot my groot frustrasie! Gewoonlik eindig dit in die hamster se hok op, maar ek het ‘n bietjie potensiaal in die gemorspos gesien en nou het dit ook ‘n ander doel in ons huis – gebruik dit as ‘n goedkoop alternatief om as opvoedkundige speelding te dien! Neem ‘n paar van die pamflette en vra jou kind om dit te sorteer in groepe, bv. watter winkels verkoop kos, watter winkels verkoop meubels, ens. Speel speletjies soos “ek sien met my klein ogies iets wat geel is, en mens kan dit eet” bv. vir ‘n piesang. So verbeter jy jou kind se woordeskat speel-speel. Met my ouer dogter kyk ons nou na die pryse van die produkte, watter produk is die duurste / goedkoopste ens. Baie potensiaal in die ou ‘gemorspos’! Trudie


 

Vanoggend in die helder stilte van oppad skool toe ry, het ek dankbaar gevoel. ‘n Ongelooflike dankbaarheid. Ek is geseën met twee pragtige kinders, hulle is gesond en ‘n fees om by te wees. Ek het iemand wat vir my lief is, wat daagliks voor 5h00 in die oggend opstaan om te gaan werk om vir ons te voorsien en te sorg. Gister na hy moeg van die werk afgekom het, het hy die moeite gedoen om eers by ons oudste se eerste rekenaarklas te stop om te kyk hoe sy vorder. Ons het ‘n warm bord kos geniet vir aandete en heerlik gerus in ons huis. Soveel om voor dankbaar te wees. Ek is ook geseën om vir die ongelooflikste firma in die land te kan werk. Kan nie vir meer vra nie! Hoop julle het ‘n heerlike naweek en dat julle ook die ‘dankbaarheid’ van die dag sal beleef. Ons kinders het nodig om te sien hoe ons in die klein dingetjies dankbaarheid vind. Trudie xx


 

Vanoggend is daar weer vele gesprekke oor die radio oor televisie-programme en die invloed op ons kinders. Ek sit so en dink aan my twee wat ek so tot oorlopens toe liefhet, en ek is skrikkerig, maar hoopvol. Ons moet tog êrens die vertroue hê dat wat ons, ons kinders leer voldoende sal wees. Dat hulle die regte keuses sal maak. Dat hulle die regte pad sal kies. Tog, as ouer is dit moeilik, nie net om tot die besef te kom nie, maar berusting daarin te vind. Sterkte vir almal, vir die ‘oorgee’, vir die vertroue in ons kinders se besluite, vir die vertroue in jou besluite as ouer. Hoop julle het ‘n fantastiese dag. Trudie xx

 

Gratis nuusbrief

Gaan na Kinderwerf-nuusbrief en kies die Kinderwerf opsie om in te teken op ons gratis algemene nuusbrief.