Wie is Loebi?

Loebi die draak is ‘n klein ontdekkingsreisiger. Hy ontdek dag na dag meer en meer van sy drakewêreld, soos ‘n kind sy mensewêreld ontdek. Die drakewêreld is bietjie anders as die mensewêreld, maar nie só anders nie. Op slot van sake hou die drake die aarde dop …

Loebi nooi alle kinders tussen 0 en 7 jaar om deel te word van sy wêreld. So sal hulle deel word van ‘n ongelooflike storie-ervaring wat uniek in sy soort is.

As lid van die Loebi-aktiwiteitsklub kan jy elke maand ‘n ouderdomsgepaste Loebi-storie met ouerhandleiding bestaande uit daaglikse aktiwiteite en leerhulpmiddels ontvang wat jou help om alle aspekte van jou kind se ontwikkeling optimaal te stimuleer. Sodoende word jou kleinding speel-speel skoolgereed.

Meer inligting oor die Loebi lees-en aktiwiteitsklub

Die belangrikheid van ouers se betrokkenheid in ‘n kind se opvoeding kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Dit is in vandag se kompeterende wêreld nie net genoeg om jou kind kleuterskool toe te stuur nie. Indien jy jou kind ‘n voorsprong wil gee, moet jy ook ekstra aktiwiteite (op ‘n speelse manier) by die huis doen en natuurlik soveel as moontlik stories vir jou kind lees.

Indien jou kind by die Loebiklub aangesluit is kan jy gerus wees dat jy alles in jou vermoë doen om te sorg dat jou kind se ontwikkeling op standaard (en nog beter) is.

Lees meer oor die Loebiklub en kostes hier: Loebiklub

 

leesboekiespienk1-6

Die skrywer

Al die Loebi die drakie stories is geskryf deur die bekroonde kinderboekskrywer Martie Preller!

Eers was daar Balkie,
Toe Babalela
en nou is daar…  Loebi!

Al die wonderlike, eg Afrikaanse Loebi die draak storietjies is geskryf deur Martie Preller, een van die bekendste en gewildste Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywers en die skepper van geliefde karakters soos Babalela en Balkie. Sy het reeds verskeie toekennings vir haar werk ontvang, waaronder die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur vir Babalela, Diep diep in ’n donker bos en Lisa het ‘n plan asook die Sanlam Prys vir Jeuglektuur, die M.E.R.-Prys vir kinderliteratuur, die ATKV-Kinderboektoekenning en die Alba Bouwer-prys. Lees meer oor haar werk by www.martiepreller.co.za

Hier is wat sy oor Loebi en sy wonderwêreld te sê het:

Dit is vir my ’n groot vreugde en ’n groot voorreg om deel te wees van die skep van Loebi se wêreld in samewerking met Kinderwerf. Sedert my eerste boek in 1992 gepubliseer is, was een van my drome om vir kleintjies so iets soos hierdie beskikbaar te stel – ’n deurlopende blootstelling aan die betowering van stories sodat lees deel word van hulle lewens. Soos ek self as kind ervaar het, maak stories wêrelde van rykdom vir ’n mens oop.

’n Kind wat gebore word, nes Loebi wat uit sy eier te voorskyn kom, is ’n klein ontdekkingsreisiger. Hulle bevind hulle skielik in ’n wêreld wat hulle moet verken. Hulle voel verward en oorweldig deur soveel vreemde dinge en dan moet hulle, nes elkeen van ons moes, hulle eie lewenspaadjies vind.

Elke dag leer hulle meer en meer van hulle wêreld, eers net hulle eie klein kring van gesin en familie en dan dein hulle lewens wyer en wyer uit soos wat hulle meer en meer ontdek. Ons is almal steeds ontdekkingsreisigers!

Toe Martie Kruger in 2007 met die idee van Loebi-stories te voorskyn gekom het, was dit vir my ’n unieke ervaring om saam met die klein Loebi te begin loop en insidente uit sy lewe neer te skryf.

Hierdie stories is ’n soort joernaal van die Drakeplaneet. Elke kind het soortgelyke ervarings, want die Drakewêreld is maar net ’n storie-spieëlbeeld van ons eie wêreld en Loebi, die draak, is maar net ’n kind in ’n drakielyf.

Dit was ‘n opwindende ervaring vir my om Loebi die draak te kon ontmoet van die oomblik dat hy uit die eier gekom het – amper soos ’n eie kind of kleinkind!

Voordat Loebi kon begin met al sy dinge, moes ons eers uitvind hoe lyk hy en hoe lyk die Drakewêreld! En die span wat uiteindelik die hele Loebi-wêreld gestalte gegee het, het begin saamwerk om elkeen op sy of haar unieke manier en met hulle unieke talente ‘n dimensionele Loebi-wêreld te skep.

Ek kon voel hoe voel Loebi, toe hy uit die eier gekom het, maar hoe lyk hy?En hoe lyk Pappa en Mamma en Sussie-Ba en Sussie La en oupa Loebibus en ouma Heidels en al die ander drake?

Heidi Fivaz het gelukkig geweet en omdat sy geweet het, kan sy die pragtige illustrasies doen. As deel van my bydrae, het ek die stories vir elke ouderdom aangepas by die kognitiewe vermoëns van ’n kind van daardie ouderdom.

Die stories se sinstruktuur en woordeskat begin dus eenvoudig vir die heel kleintjies, maar dit word stelselmatig meer en meer verwikkeld, met nuwe woorde en begrippe wat deur die kind uit die konteks van die storie afgelei kan word.

Die kind “leer” dus byna “onbewustelik” lees – wat die heel beste manier is! “Lees” word dan ‘n “natuurlike” deel van sy of haar lewe. En die voordele vir iemand wat vlot en met gemak en begrip kan lees is eindeloos, nie net vir plesier nie – maar alles wat die kind in sy of haar latere lewe sal moet bestudeer in enige vak of veld word in geskrewe taal aangebied. Om ’n kind die geleentheid te gee om vlot te kan lees, is om hom wêrelde present te gee.

 

Die illustreerder

Martie Preller, die meesterbrein agter die Loebi-leesboekies:

Ek kon voel hoe voel Loebi, toe hy uit die eier gekom het, maar hoe lyk hy? En hoe lyk Pappa en Mamma en Sussie-Ba en Sussie La en oupa Loebibus en ouma Heidels en al die ander drake?

Heidi Fivaz het gelukkig geweet, en omdat sy geweet het, kon sy die pragtige illustrasies doen.

Martie Preller, mede-skrywer Martie Kruger en Heidi het ook saamgewerk aan die Kanja die Derde stories wat Januarie 2006 – April 2008 in rooirose verskyn het.

Lees meer oor Heidi Fivaz en haar werk by www.heidifivaz.com.

'n Voorbeeld bladsy uit 'n Loebi blouboek vir die 4-5 jarige ouderdomsgroep

‘n Voorbeeld bladsy uit ‘n Loebi blouboek vir die 4-5 jarige ouderdomsgroep

Wat sê ons klublede?

Armand is nou in Graad 1 en die aktiwiteite pas presies in by wat hulle nou begin doen. Ek is omtrent meer opgewonde as die kinders. Sonet

DANKIE VIR ‘n WONDERLIKE AFRIKAANSE GELEENTHEID wat julle ons kinders bied – veral vir mense soos ek wat op die plaas woon – ek hoop net almal sien dit soos ek!  Dit is soms maar erg om hier op ‘n plaas te bly want jou kinders het nie aldag al die geleenthede wat hulle maats in die dorpe het nie.  Maar met die leesklub voel dit darem vir my ek kan my kind ook help om nie eendag soos ‘n klip tussen sy maatjies te wees nie! Helene

My drieling is al drie MAL oor Loebi en kan nie genoeg kry nie!  Wat lekker is van die aktiwiteite is hulle doen My Liggaam by die skool so dit pas lekker in! Mari

Ons het ons pakkie ontvang. Dit is regtig vreeslik oulik ek dink hulle gaan dit sommer baie geniet. Louise

My twee kinders is mal oor Loebi.  Krismarie (3) wil kort-kort die stories vir haar en boetie se ouderdom hoor.  Janco (1) dans op die Loebi-liedjie.  Eers heen en weer en dan op en af.  Dit is te oulik. Julle het regtig ‘n wenner van ‘n produk!!!!!!!!!!!!!!!!!!!  Ek kan nie wag om by die huis te kom om met hulle die dag se stukke te doen nie.  Sien uit daarna om te sien wat volgende maand is. Annamarie

Ek wil net vir julle baie dankie sê vir die wonderlike klub. My kinders is absoluut gaande oor Loebi en ek moet elke aand dit tot vervelens toe lees. Dank Vader ek hoef nou nie meer self draak stories uit te dink nie. Adriana

My seuntjie (4)  is verskriklik hiperaktief en sukkel om stil te sit en te konsentreer.  As hy egter iets wel in sy kop het vergeet hy dit nie maklik nie en hy hou daarvan om dinge te leer.  So die Loebi pakket geniet ons baie, juis omdat ek rustig met hom kan sit en dit saam met hom daardeur kan gaan. Jurene

Ek wil julle net dankie sê vir die wonderlike werk wat julle vir ons Afrikaanse kinders doen. Ek is nou besig met Loebi se pienk reeks met my seuntjie en hy leer so baie. Claudia

Baie dankie vir die pragtige boekies en al die aktiwiteite wat julle al gestuur het. Ek kan sien dat daar harde werk ingesit is en wel deurdenkte beplanning gedoen is om die Loebi-leesklub baie spesiaal te maak. My kinders geniet dit verskriklik baie! Daphne Basson

Baie dankie, die aktiwiteite is puik uiteengesit. 10/10 vir julle daarvoor. Jana Cronje

Baie, baie dankie. Het gister my pakkie gaan haal by die poskantoor. Ek love julle produk. My kleinding is nog bietjie klein maar gaan dit sommer vir haar gee vir haar 1ste verjaarsdag. Gaan nou solank begin spaar vir die volgende reeks. Julle is tops. Edith Gerber

Pappa lees elke aand vir Loebi 'n storieboek

Pappa lees elke aand vir Loebi ‘n storieboek

 

Kweek ‘n liefde vir lees

Martie Preller, bekroonde skrywer bekend as die meesterbrein agter die Babalela-boeke en die skrywer van die Loebi-leesreeks:

Stories help ‘n kind om te leer lees, want die stories hou sy aandag en gee betekenis aan woorde. Stories is deure na ander wêrelde. Wanneer ‘n kind lees van ander wêrelde, ontdek hy homself en sy eie wêreld, op ander maniere as ‘n kind wat nie lees nie. Deur ‘n kind te leer om te lees en hom bloot te stel aan soveel stories as moontlik, is een van die grootste geskenke wat jy hom ooit kan gee. Watter ander geskenk maak deure oop na eindelose moontlikhede om ‘n lewe wat betekenis het te leef?

Hoe kry ek my kind versot op lees?

Hoekom is kinders so lief vir (TV-)reekse soos Pinocchio of Heidi? Hulle raak lief vir die karakters. Pinocchio en Heidi is reekse opeenvolgende stories met dieselfde karakters. ‘n Reeks voorlees- en selfleesstories soos die van die Loebi-leesreeks is dus ideaal om ‘n liefde vir lees te kweek en kinders “hooked” te kry. Voorlees- en selfleesstories prikkel ook die verbeelding en:

“Verbeelding is belangriker as kennis” – Albert Einstein

 

leerhulpmiddelswinkgroen
Laai gerus ‘n gratis voorbeelde van al die ouderdomsgroepe hier af.

Loebi Pienk voorbeeld

Loebi Geel voorbeeld

Loebi Groen voorbeeld

Loebi Blou voorbeeld

Loebi Pers voorbeeld

 

Stel jy belang om in te skryf by die Loebiklub?  Kry meer inligting oor kostes sowel as ‘n inskrywingsvorm op ons klub-blad.

Jy kan ook ons kontak op lynette@loebi.co.za  of mail@kinderwerf.co.za vir meer inligting.

Save

Save

Save

Save

Gratis nuusbrief

Gaan na Kinderwerf-nuusbrief en kies die Kinderwerf opsie om in te teken op ons gratis algemene nuusbrief.