Kinderrympies

Baie dankie aan Ina van Rensburg wat die volgende rympies uit haar kinderdae aan Kinderwerf gestuur het.

ALLA WIEP, ALLA WAP

Alla wiep, alla wap
Hoe kook jy die pap?
Sonder suiker, sonder melk,
‘n groot bord vir elk.


DAARS ‘n APIE OP ‘n STOKKIE

(Kan ook gesing word)
Daars ‘n apie op ‘n stokkie voor my ma se agterdeur
Daars ‘n gaatjie in sy broekie en sy stertjie steek
daardeur.


WIPPIE EN SNIPPIE

Wippie en Snippie loer uit by ‘n gaatjie.
Wip is ‘n muisie en Snip is sy maatjie.
Wippie en Snippie, daar kom die groot kat!
Woerts is die muisies weer trug in die gat.


DIE JAKKALS EN DIE GANSIE

Jakkals nooi vir Gansie: Kom eet vanaand by my.
Daars heerlike ou kossies en uintjies uit die vlei.
Nee dankie, sê die Gansie, al staan jy op jou kop.
As ek by jou kom kuier
eet jy my seker op.


DIE JAKKALS EN DIE EENDJIE

‘n Vette eend het eendag al met die pad geloop.
Sy wou gaan rys en ertjies en lekkernye koop.
Maar langs die pad het Jakkals haar stil-stil voorgelê;
‘n eend hier in sy bladsak, is net wat hy wou hê
Goeiemore, liewe Eendjie, ek sien jou voete pla.
As jy in hierdie sak klim, sal ek jou mark toe dra.
Nee dankie, meneer Jakkals, al pla my voete ook,
Dis beter in die paadjie as in jou pot te kook.


AS EK EENDAG GROOT IS

As ek eendag groot is
Bou ek vir my ‘n huis
Met plek vir al die diere,
Van ‘n olifant tot ‘n muis.
In elkeen van die slaapkamers hou ek ‘n beertjie aan,
En weet jy, in die voorhuis, daar woon die bobbejaan!


BOBBEJAAN

Bobbejaan, bobbejaan, waar kom jy vandaan?
Bo uit die berge, onder die maan.
Bobbejaan, bobbejaan wat maak julle daar?
Ons grawe vir uintjies en stoei met mekaar.


MY SWEPIE

Ek maak ‘n lekker swepie,
‘n riempie aan ‘n stok.
Daarmee laat ek die varkies
Hardloop uit hul hok.
Ek gee ‘n harde hou

O, nie regtig raak
Net om die stoute varkies
Goed skrik te maak.
Helena F Lochner


KIEPIE

Kiepie, Kiepie, kom tog gou
Hier is lekker kos vir jou
Maar dan moet jy my eers sê
Waar jy al jou eiers lê.


DIE GOUE SLEUTELTJIE

As ek ‘n goue sleuteltie
in die hande kry,
dan sluit ek al die koutjies oop
En laat die voëtjies vry.
Ek sluit ook ons ou koskas oop
waar Ma die koek in hou
en allerhande lekker goed
waaraan ek graag wil kou.
Maar ons ou skooldeur sluit ek toe!
So styf as jy kan dink.
Die sleutel gooi ek in die see
Om diep daar weg te sink!
Helena F Lochner


BEROU KOM ALTYD TE LAAT

(‘n Gediggie wat Ouma Sielie vir ons geleer het,
veral as ons ongehoorsaam was!)
‘n Muisie speel naby die kat.
Sy moeder sien hom daar.
“Ag, kindlief,” roep sy,  “kom tog gou.
Jy is in groot gevaar!”
Maar hoe die moeder ookal roep
die muisie gaan sy gang.
Daar spring die kat en in haar klou
het sy die muis gevang.
Ag, had die diertjie maar gehoor ..
berou kom nou te laat.
Leer hier ‘n lessie uit, my kind,
en hoor na goeie raad.


WAAR KOM EK VANDAAN?

Mammie, waar kom ek vandaan?
Hoog uit die berge, klein bobbejaan.
Kees se seun, Joggem.
Eers in die seeppot, die hare afgekrap,
Toe op die houtblok, die stert afgekap.
Nou lê hy knus, saggies en warmpies
Styf vasgehou in moeder se armpies.


EKKE

My oupa noem my Grootseun,
My ouma noem my Skat
Tant Marie noem my Suikerbek
En Omie sê Aspatat.
Rosina noem my Grootman
En Herklaas sê Galant
Maar ek is my mammie se liefste kind
En my pappie se regterhand.


LIEFDE MET GEVOEL

Waarom huil klein Sussie so?
Netnou het sy niks makeer nie.
Dis weer Boetie, kan jy glo,
Maak hy haar nie altyd seer nie?
Waarlik, hy het haar gebyt,
Kyk daar sit die merk, my lammie
‘n splinternuwe stoutigheid.
Dis maar net van liefde, Mammie!
Liefde? Dis ‘n mooie grap!
Wat moet Mammie met jou doen
As jy so jou sussie hap?
Slaan my, Mammie, maar eers soen.
Maar eers soen? Ek bid jou aan!
Sê my nou: Wie kan dan slaan?
A.G. Visser


DIE HAANTJIE

Haantjie klap sy vlerkies toe
En sê Koeke-doedel-doe!
Dit is tyd om op te staan:
Kinders moet nou skool toe gaan.
Haantjie, waarom tog so vroeg?
Ag, ek is tog nog so moeg.
Haantjie, stil tog asseblief
Ek het my slaap so lief.
Kinders, nee, dit is al laat
Al die mense loop op straat,
Eenmaal nog roep ek jul toe:
Koeke-doedel-doedel-doe!
W.H Boshoff


KLEIN PARMANT

Tinktinkie sit bo in die boom
Waaronder oom Olifant wei,
En toe begin die kleine vent
Soos groot meneer baklei:
Gaan weg hier van my boom af man!
Al lyk ek vir jou klein,
As ek hier afklim, glo vir my,
trap ek jou ribbes fyn.
Ou Olifant verhef sy slurp,
En het maar net genies
En plaks, daar val Tinktinkie af
En binne-in sy kies.


WOEFIE IS MY KOLLIEHOND

(Kan ook gesing word)
Woefie is my kolliehond
Ons twee hardloop buite rond.
As ek op my rietperd ry
is ou Woefie altyd by.
Somtyds as die hond van my
Met die stompstert kat baklei
Kry ou Woefie dan ‘n klap
Kies ou Woef die hasepad.
Eendag toe ons saam gaan jag
wou ek my so stukkend lag.
Plaas dat hy ‘n leeu moet vang
Word hy vir ‘n meerkat bang.


TONGKNOPER

My liewe neef Louw
My neus jeuk nou.
Jeuk my liewe neef Louw
Se neus ook nou?


FIEMIES

Marta is vol fiemies
Sy trek haar neus opsy.
Kool wil sy nie eet nie, pampoen laat sy ook bly.
Haar rok is kastig lelik,
Sy wil ‘n voorskoot dra
En as ‘n mens net met haar speel,
gaan sy by Ouma kla.
Tienie Holloway


KARALIE KAROOL

Karalie Karool, die kat speel viool
Die koei spring swarsoor die maan,
En die hondjie lag met al sy mag
En die skottel en die lepel dans saam.


DIE VERKLUIMDE AKKEDIS

Net hier voor my op die grond
Het ek die liefste ding gekry.
Stertjie rooi en verder bont,
En gladnie bang vir my.
Kyk, ek neem hom in my hand.
Foeitog, kleinding, wat is jy?
Hier-jy, haai! Jou klein kalant!
Kyk hoe laat skrik jy my!


DIE VLOEKWOORD

Moederlief sit by die venster
Besig met die kouse stop.
Binne snel haar seuntjie Jannie,
Asem uit op ‘n gallop.
Moeder, sê die kleine Jannie,
Moeder, het vir ons geleer:
As ons woorde sê wat stout is
maak ons ma se hart so seer.
Ja, my kindjie sê die moeder,
Wat het my kind gesê?
Ma, dis Boetie, dis nie ek nie!
Dis ‘n vloekwoord wat hy sê
Kom nou Jannie, sê die moeder,
Wat het Boetie dan gesê?
Moeder kan hom mos nie straf nie
Voordat jy die saak uitlê.
Ag, sê Jannie, dis te vreeslik,
Ma se hart sal sommer breek.
Ma sal seker dit nie glo nie,
Maar hy sê¦ hy sê¦APTEEK!
Henriette Pienaar


DIE DUISENDPOOT

Pasop! Pasop vir die duisendpoot!
As hy jou byt lag jy jou dood.
Hy byt klein Jannie op ‘n dag:
Daar kry die kind die lekkerlag.
Dit kielie hier, dit kielie daar,
Dit kielie oral aanmekaar.
Sy voetsool, neus, sy hart se sak,
Dit kielie in sy kieliebak.
Sy mond rek wyd, sy tande wys,
Hy kry inwendig hoendervleis.
Hy rol, hy krul, hy hou sy maag.
Ha-ha! Daar skeur sy hemp se kraag.
Ho-ho! Daar klap sy boonste knoop.
Hie-hie! Daar vlieg sy baadjie oop.
Sy are swel, sy kleur word blou;
Die lagbui word ‘n wolkbreuk nou.
Sy vader skrik: “My liewe tyd –
Vanwaar nou die lagsinnigheid?”
Sy moeder kerm: “Ag, wat is dit?
Nog nooit had hy die ritteltit.”


AS BOETIE BAD

As Boetie bad is alles nat
Wat in die kamer staan.
Die water spat ‘n breë boog
Tot teen die drumpel aan.
Die kat dra gou haar kleintjies weg
En Sussie gryp haar pop,
Ou Wagter loer net een slag skuins
En soek die tuintjie op.


VINGERRYMPIE

Duimpie het in die water geval
Lekkepot het hom uitgehaal,
Langeraat het hom huis toe gedra,
Filafooi het hom neer gelê,
En Pinkie het vir Ma gaan sê.


DUIMELOT

Duimelot het ‘n os gekoop
Lekkepot het hom laat loop
Langeraat het hom afgeslag,
Filafooi het die wors gestop
En diè klein skelm eet alles op.


JAN BALIE

Daar kom ou Jan Balie aan
Hy het sy vrou se tjalie aan
Hy lag so gie! Hy lag so ga!
Hy lag so gie ga ga!
Die buurvrou loer en sê: “ek wed
Lagstuipe – dit is wat hy het.”
Die buurman luister op sy stoep
En gaan die naaste dokter roep.
Die dokter bring lanset en spuit;
Eers in sy arm, toe in sy kuit.
Toe lag hy eens so erg. “Dis mis –
Dis glad nie waar my lagspier is.”
Toe mompel dokter Oudedoos:
“Ek vrees die saak is hopeloos.”
Toe kom ou juffrou Net Natuur
En sê: “Probeer my waterkuur.”
Maar wat … hy’t al die put se water
in ‘n ommesientjie uitgeskater.
Toe kom die homeopatie-man;
Geen siekte of hy weet daarvan.
Hy’t simpatie, hy weet ‘n plan:
“’k moet hom ‘n grap of twee vertel
Dan mag hy van die lag herstel.”
Wel. So gesê en so gedaan.
Die eerste grap tas hom al aan;
Die tweede laat hom effens gril;
By drie raak hy betreklik stil.
By vier begin hy geeu en gaap;
By vyf was hy al aan die slaap.
Bleek, uitgeput daar op die bed –
Maar almal juig: hy is gered!
A.G. Visser


KAALVOETJIES

Ek loop so graag met voetjies kaal,
Kaalvoetjies in die sand;
Ek speel so graag met water,
Met water buitekant.
Maar Moeder roep my binne,
Sy sê ek mors te veel.;
Ek wonder tog of iemand
Ooit sonder mors kan speel.


UITTELRYMPIE

Olka bolka riebietjiestolka
Olka bolka knor
Errie tjerrie tjiekerie tjerrie
Errie tjerrie tjor
(Hier hou elke kind twee vuiste voor hom/haar uit en
die hand waar “tjor” val, moet agter die rug gesit
word.
As altwee jou hande uit is, is jy uit. Die een wat die
laaste uit is, is aan)


UITTEL-RYMPIE

Vrot ta-ma-tie, lekker kon-fyt,
Hoe-veel kan eet van die boer-be-skuit?
Die kind moet dan ‘n getal van 1 – 10 sê en dan
word getel tot by die genoemde getal en daardie
persoon is dan uit.


VINGERRYMPIE – 1

Duim: Diè outjie gaan skool toe
Wysvinger: Diè outjie bly tuis
Middelvinger: Diè outjie het gaan kuier
Ringvinger: by diè outjie se huis
Pinkie: en diè outjie gaan winkel toe
Maak ‘n vuis: met ‘n sent in sy vuis.


VINGERRYMPIE – 2

Duim: Duimpie
Voorvinger: Duimpie se maat
Middelvinger: Langeraat
Ringvinger: Filafooi
Pinkie: Piepie in die kooi!


VINGERRYMPIE – 3

Duim: Gaan haal hout
Voorvinger: Gaan haal water
Middelvinger: Kook kos
Ringvinger: Skep op
Pinkie: Eet alles op


HAASBEKKIES

Bettie sleep haar tongetjie
en Danie se woordjies fluit
En Gerrie se voorste tandjies
Is die laaste ene uit.
Ons hele klas is haasbek
Want almal wissel nou.
En speeltyd moet ons sukkel
Om ons harde kos te kou.
Dawid het ‘n appel,
Hy klou dit in sy vuis
En druk dit teen sy kieste vas
En kerf dit soos ‘n muis.
Lenie het ‘n groenmielie
Sy druk dit teen haar wang
En sukkel met haar oogtandjies
Om pitte raak te vang.
Ou dik Piet is nog honger
Maar sy korsies lê opsy
‘n mes durf ons nie dra nie
Want ons sal ons vingers sny.
En boonop moet ons versies leer.
Ons sê dit pragtig op,
Maar as meneer vir ons kom hoor,
Dan skud hy net sy kop.
Want
Bettie sleep haar tongetjie
En Danie se woordjies fluit
En Gerrie se voorste tandjies
Is die laaste ene uit.
Tienie Holloway


DIE MEERKATJIE

Ek ontmoet ‘n meerkatjie daar bo teen die rant.
Ek vra hom toe: “Hoe loop die pad na Matabeleland?”
Die outjie groet my vriendlik en wat sal hy toe sê?
Hy’t die pad nog nooit sien loop nie
Hy’t hom nog net sien lê.


MARTIE MEERKAT

Martie Meerkat voel so siek.
Haar koppie brand soos vuur.
Mamma wil die dokter roep
Maar Oupa sê: “Dit kos te duur!”
Toe dokter Springhaas eindelik kom
Weet hy net wat makeer.
“Mevrou sê hy, “dis kuikenvleis
Dit wil nie akkordeer!”
“Drink more vroeg ‘n lepel dou
En smeer die kop met gom –
En as jy kuikens wil beloer,
Draai liewer gou-gou om.”
Bessie Kotzè


KOEN

Koen, maak reg my skoen.
Goed juffrou, dit sal ek doen.
Koen, maak jy hom sterk?
Ja juffrou, dit is my werk.
Koen, is my skoen al klaar?
Ja juffrou, betaal my maar.
Koen, ek het geen geld by my nie.
Dan kan jy jou skoen nie kry nie.
Dag Koen!
Dag juffrou sonder-skoen!.


WAGHONDJIES

Ek is hier en ma is hier
Ons twee lê op baas se baadjie.
“Oppas,” het die baas gesê,
“Tot ek weer kom, hier bly lê”
Op ons pootjies lê ons kop
Maar ons hou jou darem dop.
“Weg jou hand, en raak ons nie,
Anders word ons knor ‘n daadjie!”
Toe oog lê ons op die baadjie
maar ons loer tog deur ‘n gaatjie.
Een oor op en een oor af. “Pasop!”


GEBEDJIE

Dankie vir die lekker dag
Dat ons kon speel en lag.
Dankie vir die sonneskyn,
Die diertjies groot en klein.
Dankie vir ons kos, o Heer,
En alles lief en mooi en teer.
Amen


DIE PROFEET (‘n gediggie uit ons leesboek ongeveer Std. 4 1948)

As ons ou kat, Meneer De Bruin
Sy snorretjie so was,
Dan voel ek altyd baie bly
Want een ding glo ek vas:
Ek glo dat hy hom voorberei,
Ons gaan vanmiddag mense kry.
Dan trek ek my vuil voorskoot uit
En kam my hare glad.
Dan kyk ek na die dorp se kant
Al langs die maanhaarpad.
Maar mammie sê: “Jou lawwe kind,
Wat glo jy sulke bog?”
Maar netnou-netnou kom ‘n kar,
Hoe lekker lag ek tog.
Dan moet hul rondspring dat dit kraak
Om alles reg en klaar te maak,
En ek speel lekker in die tuin
Met ons ou slim Meneer De Bruin.


OU JUFFROU PADDA

“Tien klein paddatjies, kom sit in ‘n kring.
Bring julle boekies en laat ons sing.
Maak julle bekkies wawyd oop
En sing vir my so soet soos stroop.”
“Kwak kwak kwak!
Kwek kwek kwek!”
Tien klein paddatjies maak my gek.


RAAISELS

Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep.
Woerts in die hoekie. (besem)
Ek het ‘n perdjie,
Hoe verder ek ry
Hoe korter word sy stertjie. (brandende sigaret)
Kromme vader, holle moeder
Drie kindertjies sonder siele. (driepoot pot)
So groen soos gras, so wit soos was
So rooi soos bloed, so suikersoet. (waatlemoen)


TRIPPE, TRAPPE, TRONE

Trippe, trappe, trone
Die varkies in die bone,
Koeitjies in die klawer,
Perdjies in die hawer,
Die gansies in die groene gras,
Die eendjies op die waterplas.
Ek wens dat kindjie groter was
Om al die diertjies op te pas.


OOM OLIFANT

Oom Olifant, jou reuse dier
Die mense lag vir hul plesier,
Want waar het jy al ooit gehoor
Van ‘n stertjie van agter en ‘n stert van voor?


BLOU MAANDAG (op Laerskool Beestekraal geleer ongeveer 1945)

My mammie is laat,
My pappie is kwaad,
Ons hulp het nie opgedaag.
Die stoof is vuil,
Die babatjie huil,
Hy het vreeslik pyn op sy maag.
Die reën die spat,
Die wêreld is nat,
Net lekker om kaalvoet te loop.
Keer voor, keer voor!
Die tenk loop oor!
Die water spuit van die dak.
Draai net die kraan onder oop
Dan sal dit van bo sommer self sak.


MUSKIETJAG

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ‘n bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.
Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.
Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…


HOOGMOED

‘n Padda op ‘n boereplaas
Het hom mos eenmaal opgeblaas.
Hy sê hy wil, wat dit ook kos,
So groot word soos ‘n os.
Hy blaas en blaas sy kieste bol
Sy rug word krom, sy magie hol.
Maar ag! Jy hoor net tande knars
Want ons ou vriend het oopgebars.
Daar lê hy nes ‘n droë beskuit
Met al sy ingewande uit.
Nouja ons weet dit almal mos,
‘n padda word tog nooit ‘n os.
W.H. Boshoff


AS DIT FLUIT-FLUIT GAAN

Dit was ‘n bitter dag vir my
Die Sondag in die kerk;
Waar ons sit, in die middelry,
Word alles opgemerk.
Die dominee hou skielik op,
Die ouderlings kyk om;
Rooiskaam laat sak my ma haar kop
Want almal lyk verstom.
Wel, tuis het ek ‘n pak gekry
En huil my byna hees,
Maar dit was darem, glo vir my,
‘n lekker fluit gewees!
A.G. Visser


RAAI RAAI

Ek sit twee wit perde in die stal.
As ek hulle uithaal is hulle bruin.
(brode wat gebak word)
Hoe sedig sit hy, O, die ding!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nóu gaan die vabond sterwe…
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dòòd sal hy, ek sê dit weer:
My naam is van der Merwe!
A.D. Keet


AANDGEBEDJIE

(Uit die Hallelujaboek 1949)
Heer, as my moeder rustig slaap
en donker is die nag,
hou in die stllle duisternis
dan tog by my die wag.
Leer my verstaan dat niks my tref
U waak aan elke kant,
Ook in my donker kamertjie
Hou U my aan die hand.
Amen


Sê-NOU

(Oom Lood Basson het dit altyd opgesê)
Sê-nou is ‘n lekker sê:
Alles wat ‘n mens wil hê,
Alles wat jou hart begeer
Kry jy en nog baie meer.
“Sênou maar..” sê ek vir my maat
Toe ons saam loop langs die straat,
“Sê byvoorbeeld enigiets
Van ‘n motor tot ‘n fiets
Perdekar of ossewa,
Ryperd wat sy ruiter dra,
alles waarop mense ry
Gaan onsigbaar hier verby.
Ooms te perd met lange baard
Wip-wip luglangs dood bedaard.
Snaaks sou wees die tremwa daar,
Twee verdiepings opmekaar,
Maar die baie-sukkel-trap
Lyk my nog die grootste grap
As jy net die fietser sien
Maar geen spoor van sy masjien.
“Sê-nou..” dis ‘n lekker sê.
Alles wat ‘n mens wil hê,
Alles wat jou hart begeer
Kry jy en nog baie meer.


BIESIE-BIESIE-BAME

Skoon is nou weer elke poppie
Van die voetjies tot die koppie.
Sedig sit hul, maar ek vrees
Almal was nie soet gewees,
Want die stoute Teddiebeer
Het sy bakkies swart gesmeer
En die wilde Golliewok
Het vandag weer so gejok.
Riena kom van Graaff-Reinet,
Ons twee het tog soveel prêt.
Kjoepie is my liefste kind
Met haar laggie en haar lint.
Toe maar, nou is almal soet,
Moedertjie is ook weer goed.
Knietjies krom en hande netjies
Bid nou julle aandgebedjies:
Biesie-biesie-bame
Vou die handjies same;
Ena, dena, dana, doe,
Maak nou julle ogies toe;
Mena, mina, mana, moeg,
Tot dit lig word more vroeg.
Amen.
A.G.Visser

Gratis nuusbrief

Gaan na Kinderwerf-nuusbrief en kies die Kinderwerf opsie om in te teken op ons gratis algemene nuusbrief.