Tantrums

“Kalm ouer, Kalm kind: Die Geheim van Tantrum-oorlewing”

Tantrums. Daardie een woord wat ouers laat sweet in winkels, sug in restaurante, en soms voel of hulle wil weghardloop. Maar wat as ons sê daar is ’n manier om daardie emosionele storms op ‘n kalm, liefdevolle manier te bestuur?

Die sielkundige, Reem Raouda, wat meer as 200 ouer-kind-verhoudings bestudeer het, het gevind dat ouers wat tantrums die beste hanteer, sekere frases gebruik wat kinders help om hul emosies te reguleer. Hierdie ouers straf nie eers nie – hulle verbind, kalmeer, en leer.

Hier volg sewe van daardie frases – en waarom hulle werk.


1. “Ek sien jy is baie omgekrap.”

Hierdie eenvoudige erkenning sê vir jou kind: “Jy is nie alleen nie. Ek sien jou.” En net daardie gevoel van raakgesien word, kan die intensiteit van ‘n tantrum verlaag.

2. “Jy voel [emosie] nou omdat [rede] – en dis reg so.”

Byvoorbeeld: “Jy voel teleurgesteld omdat speeltyd verby is, en dis reg om so te voel.” Hierdie frase help jou kind om hul emosies te verstaan en woorde te gee aan wat hul liggaam en hart ervaar.

3. “Dis okay om kwaad / hartseer / gefrustreerd te wees.”

Kinders moet leer dat gevoelens nie gevaarlik of sleg is nie. Deur hulle gvoelens te normaliseer, help jy hulle om dit te aanvaar eerder as om dit uit te druk in gedrag.

4. “Ek weet dis moeilik.”

Empatie. Net daardie paar woorde bring dikwels trane van verligting. Dit sê jy verstaan sonder om te oordeel.

5. “Ons slaan nie / skree nie / gooi nie goed nie – maar dis okay om kwaad te wees.”

Hierdie frase stel ‘n duidelike grens sonder om die kind te skaam. Jy skei die gedrag van die emosie: “Ek is steeds lief vir jou, maar die manier waarop jy dit hanteer, is nie aanvaarbaar nie.”

6. “Wil jy saam met my asemhaal of daaroor gesels?”

‘n Keuse gee die kind ‘n gevoel van beheer – juis wanneer hulle voel hulle verloor dit.

7. “Kom ons kyk wat jy nou nodig het, of wat ons anders kan doen.”

Hierdie frase leer probleemoplossing. Dit draai die situasie om van chaos na samewerking.


Hoekom werk hierdie frases so goed?

Hierdie frases is gebaseer op emosionele intelligensie en positiewe dissipline. Hulle:

  • Help kinders om emosies te verstaan en te benoem
  • Bou vertroue en verbintenis
  • Leer selfregulering en probleemoplossing
  • Verminder die behoefte aan straf

En belangrik: hulle help ouers om kalm te bly – selfs in die storm.


💡 Wat kan ouers nog doen om tantrums te bestuur?

1. Reguleer jouself eerste

‘n Ontploffende ouer leer ‘n kind niks nie. Jou kalmte is aansteeklik. Neem ‘n diep asem. Tel tot tien. Fluister eerder as om te skree. Jy leer meer met jou voorbeeld as met jou woorde.

2. Hou by roetine

Kinders voel veilig wanneer hulle weet wat volgende kom. Onvoorspelbaarheid is ‘n groot sneller vir woede-uitbarstings. Beplan oorgange (bv. “Ons gaan oor vyf minute huis toe”) en gee hulle genoeg tyd om voor te berei vir die nuwe aktiwiteit wat kom.

3. Leer emosiewoorde

Help jou kind om emosies te benoem – moeg, kwaad, bang, teleurgesteld. Hoe meer emosiewoorde hulle ken, hoe minder gebruik hulle gedrag om dit uit te druk. Kyk gerus na Kinderwerf se emosiewiel hier. Dit is ‘n baie oulike ‘tool’ wat kinders leer om hulle emosies te identifiseer.

4. Skep ‘n “voel-veilig”-hoekie

‘n Sagte kombers, trooskussing, asemhalingstegnieke – dit alles kan help om ‘n plek te skep waar jou kind hulself weer kan vind. Dis nie ‘n strafplek nie – dis ‘n kalmeringshoekie.

5. Moenie redeneer in die hitte van die oomblik nie

Wanneer kinders emosioneel oorlaai is, is hul brein in veg-of-vlug. Wag tot hulle gekalmeer is om lesse te leer of gesprekke te voer.

6. Ná die tantrum: verbind en leer

Wanneer dinge kalm is, gesels liefdevol. Vra: “Wat het jy gevoel toe jy so kwaad was?” of “Wat kan ons volgende keer probeer?” Jou kind leer dan dat jy ‘n veilige hawe is, selfs ná ‘n storm.


Onthou: Jou kind het nie ‘n volwasse brein nie – hulle leen jóúne.

Tantrums is nie ongehoorsaamheid nie. Dis hul manier om met oorweldigende emosies te worstel. As jy hulle met liefde, kalmte en duidelike grense benader, leer hulle uiteindelik om dieselfde met hulself te doen.

Sukkel jy baie met jou kind se emosies? Of dalk is jou kind angstig of dit voel asof sy/haar gedrag uit beheer is. Moenie kommer nie daar is ‘n oplossing. Gaan kyk gerus na ons aanlyn speelterapie kursus. Hierdie kursus sal jou help om weer kalmte en geluk in jou huis te skep.

Gratis nuusbrief

Gaan na Kinderwerf-nuusbrief en kies die Kinderwerf opsie om in te teken op ons gratis algemene nuusbrief.