Aksie Rympies

Hierdie is klomp aksie rympies wat jou baba en peutertjie gaan laat kraai van die plesier. (Jy kan dit vir jou ouer kind ook leer!) Dit is alles bestaande rympies en ons is op soek na nog! As jy nog aksie rympies ken, deel dit asseblief met ons deur ‘n e-pos te stuur.

Duimpie … duimpie se maat

Vat jou kind se handjie en druk op elke vingertjie soos die rympie aandui:

Duimpie
Duimpie se maat
Langeraat
Fiela Vlooi
en piepie in die kooi
Met die laaste vingertjie moet daar natuurlik gekielie word!


Daar kom ‘n muis ...

Daar kom ‘n muis,
hy bou ‘n huis.
Sit kleintjie se twee hande teen mekaar dat dit soos ‘n dakkie lyk – moet ‘n V vorm.
Daar kom ‘n mug
hy bou ‘n brug.
Maak nou kleintjie se hande plat dat sy hande ‘n bruggie vorm.
Daar kom ‘n vlooi,
en hy byt jou rooi rooi rooi!
Kielie jou kleintjie liggies! Dis die vlooi wat hom op eet!


Spekkie

Wie het die spekkie …
Klap met jou vingers in die lug terwyl jy sê:
Wie het die spekkie daar bo gesteel?
Kom stadig met jou hand af, elke keer wat jy die volgende sin sê:
Hier kom die krappie aangekruip, hier kom die krappie aangekruip. Onder die kennetjie ingeduik.
Kielie onder kleintjie se kennetjie


Duimpie het in die water geval …

Druk op elke vingertjie soos die rympie aandui:
Duimpie het in die water geval
Duimpie se maat het hom uitgehaal
Langeraat het hom huistoe gedra
Ringman het hom in die bed gesit
En Pinkie het vir pappa gaan sê!


Handjies klap

Klap kleinding se handjies terwyl jy die volgende sê:
Handjies klap
koekies bak
bring die meel
nie te veel
klits die eiers gou-gou
Vryf sy handjies vinnig teen mekaar
Lekker eet ons nou-nou
Gooi sy handjies in die lug


Eerste varkie-parkie

Dankie aan Charlene Du Preez wat hierdie rympie ingestuur het.

Gebruik die kleinding se toontjies vir die volgende rympie. Begin my die groottoon. Wikkel elke toontjie soos jy die rympie opsê!
Eerste varkie-parkie het gaan boer … boer … boer …
Tweede varkie-parkie het die mieliepap geroer …
Derde varkie-parkie bring die wortels en die beet …
Vierde varkie parkie het van alles iets geweet …
Maar die vyfde varkie-parkie wou net vreet-vreet-vreet!
Kielie die beentjies


Tien klein vingertjies

Ingestuur deur Annerise Augustyn- baie dankie!

Tien klein vingertjies in die lug
Hou armpies op
Tien klein vingertjies agter my rug
Hou armpies agter rug
Tien klein vingertjies langs my sy
Hou armpies langs sy
Tien klein vingertjies behoort aan MY!
Vou armpies voor bors


Kop en skouers …

Kop en skouers, knieë en tone,
Knieë en tone, knieë en tone.
Kop en skouers, knieë en tone.
Almal werk nou saam!

Gratis nuusbrief

Gaan na Kinderwerf-nuusbrief en kies die Kinderwerf opsie om in te teken op ons gratis algemene nuusbrief.